Ouma se tuin was wonderlik, vol sorghum, gars en maniok. Maar die beste van alles was die piesangs. Alhoewel Ouma baie kleinkinders gehad het, het ek in die geheim geweet ek is haar gunsteling. Sy het my dikwels na haar huis genooi. Sy het vir my geheimpies vertel. Maar daar was een geheim wat sy nie met my gedeel het nie: waar sy haar piesangs rypgemaak het.
Eendag het ek ‘n groot grasmandjie in die son buite Ouma se huis gesien. Toe ek gevra het waarvoor dit was, was die enigste antwoord wat ek gekry het, “Dit is my towermandjie.” Langs die mandjie was verskeie piesangblare wat Ouma kort-kort omgedraai het. Ek was nuuskierig. “Waarvoor is die blare, Ouma?” het ek gevra. Die enigste antwoord wat ek gekry het, was: “Hulle is my towerblare.”
Dit was so interessant om na Ouma, die piesangs, die piesangblare en die groot grasmandjie te kyk. Maar Ouma het my na my ma toe gestuur om iets te doen. “Ouma, laat my asseblief toe om te kyk hoe u voorberei…” “Moenie hardkoppig wees nie, kind, maak soos ek sê, ” het sy aangedring. Ek het weggehardloop.
Toe ek terugkom, het Ouma buite gesit, maar daar was geen mandjie of piesangs nie. “Ouma, waar is die mandjie, waar is al die piesangs en waar…” Maar die enigste antwoord wat ek gekry het, was “Hulle is in my towerplek.” Dit was so ‘n teleurstelling!
Twee dae later het Ouma my gestuur om haar kierie in haar slaapkamer te gaan haal. Toe ek die deur oopmaak, is ek begroet deur die skerp geur van rypwordende piesangs. In die binneste kamer was Ouma se groot tower grasmandjie. Dit was goed weggesteek onder ‘n ou kombers. Ek het dit opgelig en die heerlike reuk ingeasem.
Ouma se stem het my laat skrik toe sy roep, “Wat maak jy? Maak gou en bring my kierie.” Ek het vinnig uitgegaan met haar kierie. “Waaroor glimlag jy?” het Ouma gevra. Haar vraag het my laat besef dat ek steeds geglimlag het omdat ek haar towerplek ontdek het.
Die volgende dag toe Ouma by my ma kom kuier het, het ek na haar huis gehardloop om weer na die piesangs te kyk. Daar was ‘n paar wat baie ryp was. Ek het een afgepluk en dit in my rok weggesteek. Nadat ek die mandjie weer toegemaak het, het ek dit vinnig agter die huis gaan eet. Dit was die soetste piesang wat ek nog ooit geproe het.
Die volgende dag terwyl Ouma in die tuin groente gepluk het, het ek weer ingesluip en na die piesangs geloer. Amper almal was ryp. Ek kon nie help om ‘n tros van vier te gryp nie. Toe ek op my tone deur toe sluip, hoor ek Ouma buite hoes. Ek het net betyds die piesangs onder my rok weggesteek en by haar verby geloop.
Die volgende dag was markdag. Ouma het vroeg opgestaan. Sy het altyd piesangs en maniok geneem om by die mark te verkoop. Ek was nie haastig om daardie dag by haar te gaan kuier nie. Maar ek kon haar nie lank vermy nie.
Later die aand is ek deur my ma, pa en ouma geroep. Ek het geweet waarom. Daardie nag toe ek gaan slaap, het ek geweet dat ek nooit weer sou steel nie, nie van my ouma, of van my ouers en beslis nie van enigiemand anders nie.