In die besige stad, Nairobi, ver verwyder van ‘n liefdevolle huis, het ‘n groep daklose seuns gewoon. Hulle het elke dag maar gevat soos dit kom. Een oggend het die seuns hulle slaapmatte gepak nadat hulle op die koue sypaadjie geslaap het. Om die koue weg te hou, het hulle vuur gemaak met rommel. Magozwe was die jongste seun in die groep.
Magozwe was net vyf jaar oud toe sy ouers gesterf het. Hy het by sy oom gaan bly. Hierdie man het nie vir die kind omgegee nie. Hy het nie vir Magozwe genoeg kos gegee nie en het hom baie harde werk laat doen.
As Magozwe kla of vrae vra, het sy oom hom geslaan. Toe Magozwe vra of hy skool toe mag gaan, het sy oom hom geslaan en gesê, “Jy is te dom om enigiets te leer.” Na drie lange jare van hierdie slegte behandeling het Magozwe weggeloop van sy oom af. Hy het op straat begin lewe.
Die straatlewe was moeilik. Die meeste van die seuns het gesukkel om kos in die hande te kry. Hulle is soms gearresteer of geslaan. As hulle siek was, was daar geen hulp nie. Die groep moes staatmaak op die klein bietjie geld wat hulle gekry het deur op straat te bedel en ook deur plastiek en ander herwinbare goed te verkoop. Die lewe was selfs nog moeiliker as gevolg van gevegte met vyandige groepe wat dele van die stad wou beheer.
Eendag, terwyl Magozwe in asblikke krap, kry hy ‘n ou stukkende storieboek. Hy het die vuilgoed afgevee en die boek in sy sak gesit. Elke dag daarna het hy die boek uitgehaal en na die prente gekyk. Hy het nie geweet hoe om die woorde te lees nie.
Die prente het die storie vertel van ‘n seun wat ‘n vlieënier geword het. Magozwe het daarvan gedroom om ook eendag ‘n vlieënier te word. Hy het soms gedroom dat hy die seun in die storie is.
Dit was koud en Magozwe het op straat staan en bedel toe ‘n man na hom aangestap kom en met hom begin praat. “Hallo, my naam is Thomas. Ek werk hier naby by ‘n plek waar ‘n mens iets kan kry om te eet,” het hy gesê. Hy het na ‘n geel huis met ‘n blou dak beduie. “Wil jy nie soontoe gaan om kos te kry nie?” het hy gevra. Magozwe het na die man gekyk en dan na die huis. “Miskien,” het hy gesê en weggestap.
Oor die volgende paar maande het die daklose seuns daaraan gewoond geraak om vir Thomas te sien. Hy het graag met mense gepraat, veral mense wat op straat bly. Thomas het geluister na die mense se lewensverhale. Hy was ernstig en geduldig. Hy was nooit lelik of sonder respek nie. Sommige seuns het begin om smiddags na die geel en blou huis te gaan om kos te kry.
Eendag het Magozwe op die sypaadjie gesit en na sy prenteboek gekyk toe Thomas langs hom kom sit. “Waaroor gaan die storie?” het Thomas gevra. “Dit gaan oor ‘n seun wie ‘n vlieënier geword het,” antwoord Magozwe. “Wat is die seun se naam?” het Thomas gevra. “Ek weet nie, ek kan nie lees nie,” het Magozwe sag gesê.
Uiteindelik het Magozwe sy eie storie vir Thomas vertel. Die storie was oor sy oom en hoekom hy weggeloop het. Thomas het nie baie gepraat nie. Hy het ook nie vir Magozwe vertel wat om te doen nie, maar hy het altyd baie mooi geluister. Hulle het soms gesels terwyl hulle geëet het by die huis met die blou dak.
Met Magozwe se tiende verjaarsdag het Thomas vir hom ‘n nuwe storieboek gegee. Dit was die verhaal van ‘n arm seun van ‘n klein dorpie wat ‘n bekende sokkerspeler geword het. Thomas het die storie keer op keer vir Magozwe gelees. Eendag sê hy, “Ek dink dit is tyd dat jy skool toe gaan en self leer lees. Wat dink jy?” Thomas het verduidelik dat hy weet van ‘n plek waar kinders kan woon en skool toe gaan.
Magozwe het gedink aan die nuwe plek en aan skool toe gaan. Wat as sy oom reg was – sê nou net hy is te dom om iets te leer? Wat as hulle hom by die nuwe plek gaan slaan? Hy was bang. “Dis miskien beter om voort te gaan om op straat te leef, ” het hy gedink.
Hy het sy vrese met Thomas gedeel. Met tyd het die man die seun gerusgestel dat die lewe by die nuwe plek beter kon wees.
他把自己的想法告诉了托马斯。托马斯对他循循善诱,终于说服了玛格威,他在新地方一定会过上更好的生活。
Dit is hoe Magozwe uiteindelik in ‘n kamer, in ‘n huis met ‘n groen dak gaan bly het. Hy het die kamer met twee ander seuns gedeel. Altesaam het daar tien kinders in daardie huis gebly. Saam met Tannie Cissy en haar man, drie honde, ‘n kat en ‘n ou bok.
Magozwe het begin skoolgaan. Dit was moeilik en hy moes baie werk inhaal. Hy wou somtyds moed opgee, maar dan dink hy aan die vlieënier en die sokkerspeler in die storieboeke. Net soos hulle het hy nie opgegee nie.
Magozwe het in die erf van die huis met die groen dak gesit, besig om ‘n storieboek van die skool te lees. Thomas het langs hom kom sit. “Waaroor gaan die storie?” het Thomas gevra. “Dit gaan oor ‘n seun wie ‘n onderwyser geword het,” het Magozwe geantwoord. “Wat is die seun se naam?” het Thomas gevra. “Sy naam is Magozwe,” het Magozwe met ‘n glimlag geantwoord.