Hierdie is die storie van Ngede, die heuningwyser, en ‘n gierige jong man met die naam Gingile. Eendag, terwyl Gingile gejag het, het hy Ngede se roep gehoor. Gingile se mond het begin water by die gedagte aan heuning. Hy het gestop, fyn geluister en gesoek totdat hy die voëltjie in die takke bokant sy kop gesien het. “Tjitik-tjitik-tjitik,” het die voëltjie geratel terwyl hy van boom tot boom gevlieg het. “Tjitik, tjitik, tjitik,” het hy geroep en soms gestop om seker te maak dat Gingile hom gevolg het.
Na ‘n halfuur het hulle ‘n groot wildevyeboom bereik. Ngede het opgewonde tussen die takke rondgehop. Toe het hy op ‘n tak gaan sit met sy koppie na Gingile gedraai, asof hy wou sê: “Hier is dit! Kom nou! Waarom draai jy so?” Gingile kon nie enige bye van onder af sien nie, maar hy het Ngede vertrou.
Gingile het sy jagspies onder die boom neergesit, ‘n klompie droë takkies bymekaargemaak en ‘n klein vuurtjie gemaak. Toe die vuur goed gebrand het, het hy ‘n lang, droë stok in die vuur gedruk. Die soort hout was bekend daarvoor om baie te rook wanneer dit brand. Hy het begin om in die boom op te klim, terwyl hy die koue end van die rokende stok tussen sy tande vasgebyt het.
Gou kon hy die harde gezoem van die besige bye hoor. Hulle het in en uit ‘n hol boomstam – hulle nes, gevlieg. Toe Gingile die bynes bereik, het hy die rokende stok in die holte gedruk. Die woedende bye het vinnig uitgevlieg. Hulle het weggevlieg omdat hulle nie van die rook gehou het nie – maar nie voordat hulle Gingile ‘n paar geniepsige steke gegee het nie!
Toe die bye uit was, het Gingile sy hande in die nes gesteek. Hy het handevol van die swaar heuningkoeke, wat vol ryk heuning en vet wit byelarwes was, uitgehaal. Hy het die heuningkoeke versigtig in sy skouersak gepak en begin afklim ondertoe.
Ngede het alles wat Gingile gedoen het, gretig dopgehou. Hy het vir hom gewag om ‘n vet stuk heuningkoek as ‘n dankie-sê te gee omdat hy die heuning aangewys het. Ngede het van tak tot tak gefladder, nader en nader aan die grond. Uiteindelik het Gingile die voet van die boom bereik. Ngede het op ‘n rots naby die seun gaan sit en wag op sy beloning.
Maar Gingile het die vuur geblus, sy spies opgetel en begin huis toe loop, terwyl hy die voëltjie geïgnoreer het. Ngede het kwaad geroep, “VIK-torr! VIK-torrr!” Gingile het gestop, na die voëltjie gestaar en hardop gelag. “Jy wil heuning hê, né, my vriend? Ha! Maar ek moes al die werk doen en het al die bysteke gekry. Waarom sou ek hierdie wonderlike heuning met jou deel?” Hy het toe aangestap. Ngede was woedend! Dit was nie die manier om hom te behandel nie! Maar hy sou wraak neem.
Eendag, ‘n paar weke later, het Gingile weer Ngede se heuningroep gehoor. Hy het die heerlike heuning onthou en die voëltjie weer gretig gevolg. Nadat Ngede vir Gingile al met die rand van die woud langs gelei het, het hy in ‘n reuse sambreelvormige doringboom gaan sit om te rus. “Aaa,” het Gingile gedink. “Die bynes moet in hierdie boom wees.” Hy het vinnig sy vuurtjie aangesteek en begin klim met die rokende tak tussen sy tande. Ngede het gesit en kyk.
Terwyl hy geklim het, het Gingile gewonder waarom hy nie die gewone gezoem gehoor het nie. “Miskien is die nes diep in die boom,” het hy gedink. Hy het homself aan nog ‘n tak opgetrek. Maar in plaas van die bynes het hy reg in die gesig van ‘n luiperd vasgekyk! Luiperd was smoorkwaad omdat haar slaap ru onderbreek is. Sy het haar oë geskreef en haar mond oopgemaak om haar groot en baie skerp tande te ontbloot.
Voor Luiperd na Gingile kon kap, het hy vinnig teen die boom afgeklouter. In sy haas het hy ‘n tak gemis en met ‘n harde slag op die grond geland en sy enkel verstuit. Hy het so vinnig as moontlik weggehop. Gelukkig vir hom, was Luiperd nog te deur die slaap om hom te jaag. Ngede, die heuningwyser, het wraak geneem en Gingile het sy les geleer.
Sederdien, wanneer Gingile se kinders die storie van Ngede hoor, het hulle respek vir die voëltjie. Wanneer hulle heuning uithaal, maak hulle seker dat hulle die grootste deel van die heuningkoek vir die heuningwyser los!