Toe Simbegwire se ma gesterf het, was sy baie hartseer. Simbegwire se pa het sy bes gedoen om vir sy dogter te sorg. Stadig het hulle geleer om weer gelukkig te wees sonder Simbegwire se moeder. Hulle het elke oggend gesit en praat oor die dag wat voorlê. Hulle het elke aand saam geëet. Nadat hulle die skottelgoed gewas het, het Simbegwire se pa haar met huiswerk gehelp.
Eendag het Simbegwire se pa later tuisgekom as normaalweg. “Waar is jy, my kind?” het hy geroep. Simbegwire het na haar pa toe gehardloop. Sy het gaan stilstaan toe sy sien dat hy ‘n vrou se hand vashou. “Ek wil hê jy moet iemand spesiaal ontmoet, my kind. Dit is Anita,” het hy glimlaggend gesê.
“Hallo Simbegwire, jou pa het my baie van jou vertel,” het Anita gesê. Maar sy het nie geglimlag of die meisie se hand gevat nie. Simbegwire se pa was gelukkig en opgewonde. Hy het gepraat oor die drie van hulle wat saam gaan woon en hoe goed hulle lewe sal wees. “My kind, ek hoop jy sal Anita aanvaar as jou ma,” het hy gesê.
Simbegwire se lewe het verander. Sy het nie meer tyd gehad om soggens by haar pa te sit nie. Anita het haar so baie huispligte gegee dat sy te moeg was om haar skoolwerk in die aande te doen. Sy het reguit bed toe gegaan na ete. Haar enigste troos was die kleurvolle kombers wat haar ma vir haar gegee het. Simbegwire se pa het nie eers agtergekom dat sy dogter ongelukkig was nie.
‘n Paar maande later het Simbegwire se pa vir hulle gesê dat hy vir ‘n rukkie gaan weg wees van die huis af. “Ek moet weggaan vir my werk,” het hy gesê. “Maar ek weet julle sal mooi na mekaar kyk.” Simbegwire se gesig het geval, maar haar pa het dit nie agtergekom nie. Anita het niks gesê nie. Sy was ook nie gelukkig nie.
Dinge het erger geraak vir Simbegwire. As sy nie haar huispligte klaargemaak het nie, of as sy gekla het, het Anita haar geslaan. Gedurende aandetes het die vrou die meeste van die kos geëet en vir Simbegwire slegs ‘n paar stukkies oorskiet gelos. Simbegwire het haarself elke aand aan die slaap gehuil, terwyl sy haar ma se kombers vasgehou het.
Een oggend het Simbegwire laat opgestaan. “Jou lui meisie!” het Anita op haar geskree. Sy het Simbegwire uit die bed gepluk. Die kosbare kombers het aan ‘n spyker vasgehaak en in twee geskeur.
Simbegwire was baie ontsteld. Sy het besluit om weg te loop. Sy het die stukke van haar ma se kombers gevat, kos gepak en die huis verlaat. Sy het die pad wat haar pa gevat het, gevolg.
辛波薇亚伤心透了,她决定离家出走。她带着毯子的碎片,包了一些食物,沿着爸爸出差的路离开了家里。
Toe dit laat raak, het sy in ‘n boom naby ‘n stroom geklim en vir haarself ‘n bed in die takke gemaak. Terwyl sy aan die slaap raak, het sy gesing: “Mamma, Mamma, Mamma, jy het my verlaat. Jy het my verlaat en nooit weer teruggekom nie. Pappa het my nie meer lief nie. Mamma, wanneer kom jy terug? Jy het my verlaat.”
Die volgende oggend het Simbegwire die liedjie weer gesing. Toe die vroue hulle klere by die stroom kom was, het hulle die hartseer liedjie vanuit die groot boom gehoor. Hulle het gedink dit was net die wind wat die blare ritsel en het met hul werk voortgegaan. Maar een van die vroue het baie aandagtig na die liedjie geluister.
Hierdie vrou het in die boom opgekyk. Toe sy die meisie en die stukke van die kleurvolle kombers sien, het sy geskree: “Simbegwire, my broer se kind!” Die ander vroue het opgehou met klere was en vir Simbegwire gehelp om uit die groot boom te klim. Haar tannie het haar omhels en haar probeer troos.
Simbegwire se tannie het die kind na haar huis toe gevat. Sy het vir Simbegwire warm kos gegee en haar in die bed gesit met haar ma se kombers. Simbegwire het haarself aan die slaap gehuil daardie aand. Maar dit was trane van verligting. Sy het geweet haar tannie sal na haar kyk.
Toe Simbegwire se pa terugkom, het hy gesien haar kamer is leeg. “Wat het gebeur, Anita?” het hy met ‘n swaar hart gevra. Die vrou het verduidelik dat Simbegwire weggeloop het. “Ek wou gehad het sy moet my respekteer,” het sy gesê. “Maar miskien was ek te streng.” Simbegwire se pa het die huis verlaat en het die rigting van die stroom gevolg. Hy het na sy suster se dorp toe gegaan om te gaan uitvind of een van hulle haar nie dalk gesien het nie.
Simbegwire het met haar nefies gespeel toe sy haar pa van ver af sien aankom. Sy was bang dat hy dalk kwaad gaan wees, daarom het sy in die huis in gehardloop om weg te kruip. Maar haar pa het vir haar gesê: “Simbegwire, jy het die perfekte ma vir jouself gevind. Een wat jou liefhet en jou verstaan. Ek is trots op jou en ek is lief vir jou.” Hulle het ooreengekom dat Simbegwire by haar tannie gaan bly vir solank as wat sy wil.
Haar pa het elke dag by haar gaan kuier. Op die ou end het Anita saamgegaan. Sy het na Simbegwire se hand uitgereik. “Ek is so jammer kleintjie, ek was verkeerd,” het sy gehuil. “Sal jy my weer laat probeer?” Simbegwire het na haar pa se bekommerde gesig gekyk. Toe tree sy stadig vorentoe en sit haar arms om Anita.
Die volgende week het Anita vir Simbegwire, haar nefies en haar tannie genooi om by hulle te kom eet. Wat ‘n fees! Anita het al Simbegwire se gunstelinggeregte voorberei en almal het geëet totdat hulle versadig was. Toe het die kinders speletjies begin speel, terwyl die volwassenes gesels het. Simbegwire het gelukkig en dapper gevoel. Sy het besluit dat sy binnekort weer sal terugkeer huis toe om saam met haar pa en haar stiefma te lewe.